Ons vele kultuuraktiwiteite sorg dat talle individue en groepe stories kan vertel en so selfvertroue kan bou. Hier droom ons kultuursterre 'n groter droom. Ons spog met bekende kunstenaars op vele gebiede wat by Hoërskool Stoffberg gematrikuleer het.
Kunswedstryd, die lewegewende polsslag van Kultuur by Stoffberg. Ons neem deel in groepe, ons neem deel as individue, ons neem met trots deel as Stoffies. Ons betree die verhoog van vele Kunswedstryd- en Eistedfodd-kompetisies in ons omgewing, Ons dansers, sangers, musikante, sprekers en akteurs se idees kry hier gestalte. Ons 'perform' dat die STOFF so staan!
Ons is "warriors" vir CHRISTUS en by Hoërskool Stoffberg maak ons JESUS se Naam groot. Ons kom elke Dinsdag tydens pouse bymekaar waar ons die HERE loof en prys. Ons hou weeklikse kompetisies met die beste belonings. @Faith is die harklop van Stoffberg want Jesus lewe in ons.
Een van Hoërskool Stoffberg se oudste tradisies.... Produksie is wat ons anders maak as die res. Hier kry leerders geleentheid om die beste weergawe van hulself te ontdek in sang en dans. Met professionele choreograwe, 'n wêreldklas ateljee, ingevoerde ontwerperskostuums tesame met harde werk, slaan ons mense se asems weg met hierdie uitstalling van talent elke jaar.
Die Produksie familie wag vir jou.
Afrikaans - sêgoed is skietgoed!
By Hoërskool Stoffberg spog ons met dinamiese sprekers wat hul sê kan sê en hul standpunte kan beredeneer. Ons is trots op elke Stoffberg Redenaar. Stoffie-sprekers neem in die eerste kwartaal deel aan ons interne Redenaars kompetisie en die top 2 leerders in elke graad dring deur na die jaarlikse Interdorp Redenaars kompetisie. Stoffberg leerders het jaar in en jaar uit al stof(f) in die ander sprekers se oë geskop en uitsonderlike prestasies behaal. Op provinsiale vlak neem ons leerders deel aan die Gauteng Interskole Redenaarsliga, waar ons puik prestasies behaal. Stoffberg loop beslis oor van uitsonderlike en besonderse kinders met die wonderlikste talente! Leerders neem met vrymoedigheid deel aan die ATKV Redenaarskompetisie en vaar besonders goed. Ons is elke jaar opgewonde om Gr. 8 sprekers te verwelkom in ons Redenaarsspan en sien uit na al die geleenthede wat Redenaars ons kan bied.
Afrikaans - trippel op al meer tonge!
Elke leerder by Hoërskool Stoffberg het 'n stem van sy eie. By die skool se Public Speaking skep ons 'n platvorm waar elke leerder uiting kan gee aan hulle eie opinies en denke. Public Speaking vat die formaat aan van Redenaars, maar net in Engels medium. Leerders word gemotiveer om hulle opinies en denkwyses kreatief tog akademies uit te lê. Jaarliks neem ons deel aan "internal Public Speaking", inter-dorp Public Speaking & 'n uitnooi geleentheid jaareinde. Leerders neem ook deel aan Nasionale kompetisies.
"Ligte, kameras - aksie!"
As die kolligte aangaan op die Stoffberg-loopplank begin die poppe (en manne) dans! Die elegante dames en sjarmante here omtower die loopplank in 'n skouspel van skoonheid-in-askie.
Mnr en Mej Stoffie is altyd 'n reuse sukses en dit is elke keer 'n aand vol pret en 'panache'. Hoe meer deelnemers hoe meer vreugde. Daar word beoog om 'n Junior en Senior Meneer-en Mej Stoffie te kroon. Hou ons Facebook en Instagram blad dop vir meer inligting rakende die grootste, sprankelende geleentheid.
Ligte, kameras - ambassadeurs-in-aksie!
Stoffies.... Kry jul modelpassies gereed...