Sport

Op die sportveld ontvang die leerders top afrigting van ons bekwame en opgeleide afrigters. Ons spanne groei elke jaar en ons leerders het die geleentheid om aan 'n verskeidenheid van sportsoorte deel te neem.

AAN DIE BEGIN VAN DIE JAAR

MERKE, GEREED, GAAN. Stoffberg spring vroeg in die jaar weg met ons jaarlikse Atletiek seisoen waar die hoogtepunt ons Interhoër is. Atlete dun die eerste week uit en daarna is dit volstoom aan die gang met menigde kompetisies. Atlete word afgerig deur goed opgeleide afrigters waarvan ons Atletiek organiseerder, Mnr Joubert 'n SA Hekkies atleet was en hy is 'n Vlak 2 ASA en IAAF afrigter in Naellope, Hekkies en Spronge. Atlete het die kans om deur te dring na die Gauteng kampioenskappe asook the SA's. Kom sluit aan by die wegspring lyn en kom hardloop die wedloop voluit!

2DE & 3DE KWARTAAL

By Hoërskool Stoffberg besef ons dat SKAAK 'n kind se konsentrasie, geduld en uithouvermoë verbeter. Kinders leer om te fokus. Dit bou vriendskappe en ook spangees. Veral as ons teen ander skole meeding. By Stoffberg besef ons die waarde van skaak en weet dat dit dien as 'n brug tussen kinders van alle ouderdomme sowel as seuns en dogters. So, is dit nie genoeg rede waarom by ons skaakspan moet aansluit nie? Sien jou daar! Kom maak jou SKUIF!

Of dit gespeel word as 'n stokperdjie of as 'n ernstige toernooi, maak nie saak by Stoffberg nie... Golf by Stoffberg is 'n ontwikkelende sport wat geniet word deur verskeie leerders! Ons geniet dit om bietjie weg te breuk en net die natuur te geniet! Golf by Stoffberg het die potensiaal om te groei na hoër vlaktes en met die hulp van die leerders sal ons dit kan handhaaf!

By Hoërskool Stoffberg word hokkie as een van die gunsteling sportsoorte beskou. Ons bied die geleentheid vir elke meisie om hoë hoogtes te bereik saam met toegewyde en bekwame afrigters. Ons hokkie neem jaasrliks aan die NWU-16-Sportreeks deel asook aan die Easterns-hokkieliga. In ons hokkiegeskiedenis het ons al die voorreg gehad om 'n paar provinsiale spelers op te lewer. By Stoffberg se hokkie rus ons jou nie net met lewenslange vaardighede nie, maar ook lewenslange vriendskappe. Jy kry ook die geleentheid om jou hoërskoolskatkis te vul met wonderlike herinneringe van toere en geesvang. Buiten bogenoemde bied ons leerder verder ook die geleentheid om sportklinieke by te woon wat jaarliks aangebied word deur huidige Springbokspelers, wat hulle toerus met die beste moontlike uitkoms in 'n spesifieke sport. Stoffberg neem ook deel van die Hokkie Fast5. Kom deel in die pret van Hoërskool Stoffberg se hokkiefamilie. Ons is werklik die beste keuse vir jou.

Netbal is die ideale spansport vir enige dogter. Nie net kry hulle 'n geleentheid om hulle fiksheid of vaardighede te verbeter nie, maar word ook blootgestel aan die uitdagings van die lewe, naamlik deursettingsvermoë, uithouvermoë, teleurstelling, toegewydheid en die lekkerste deel van alles ... sosialisering. Alhoewel ons in die eerste kwartaal al begin om netbal te oefen, is netbal 'n wintersport wat in die tweede kwartaal gespeel word. Ons streef daarna om alle spanne blootstelling te gee aan wedstryde en om ten alle tye goeie sportmansgees te handhaaf. Belangriker as al die doele wat ons aanteken, is om elke dogter die geleentheid te bied om die nodige liggaams- en lewensvaardighede te ontwikkel sodat sy haar volle potensiaal kan bereik en met trots tot voordeel van haarself, haar span en skool kan presteer. Ons netbalspanne neem ook deel aan die NWU-16-Sportreeks asook die Ekurhuleni-liga. Die meisies kan ook jaarliks deelneem aan die Netbal Fast5.

Elke seun droom van sy groot oomblik. Die oomblik waar hy kan uitstaan en sy volle potensiaal wys. Vanaf 'n jong ouderdom kyk jy hoe die springbokke speel en jy droom om soos een van hulle te wees. Hier by Stoffberg droom ons saam met jou. Hier word elke leerder ontwikkel om op die rubyveld die beste weergawe van homself te wees. Ons ontwikkel elke seun sodat hy sy merk kan maak. Deur gebruik te maak van rugby word die seuns waardevolle eienskappe geleer soos leierskap, respek, spanwerk, kommunikasie ens. Dus gebruik ons rugby nie net as 'n sport nie, maar as 'n lewensles. Word betrokke by Stoffberg rugby en word jou eie springbok op die veld en van die veld af.

Alle tennisspelers word uitgenooi om deel te word van Hoërskool Stoffberg se ambassadeurs. Julle mag vra wat is die verband tuseen tennis en ambassadeurs. Die verlede het daarop gewys dat die tennisspelers nog altyd die Skool se naam met trots uitgedra het waar hulle ook al kom. Daar is 'n seuns en meisies span wat elk in hul liga meeding. 5 Wedstryde word deur elke span gespeel en daarna volg die uitspeel rondtes en dan die finaal. Alhoewel die skool nie beskik oor sy eie bane nie, maak ons gebruik van die goed versorgde en professionele bane by Dalview. Talle staatmakers het verlede jaar die skool verlaat en hul skoene moet gevul word. Beide seuns en meisies spanne het plek vir nuwe bloed. So kom, word deel van 'n trotse tennis-familie van Hoërskool Stoffberg.

Jaarliks na die afloop van die rugbyseisoen ruil ons manne hulle rugbystewels vir krieketkolwe. Krieket is n spansport wat jou leer om staat te maak op jou spanmaats en die proses te vertrou. Dinge kan enige oomblik draai. Die spanning, tog rustighei op die veld, is aansteeklik. Die krieket het al hoë hoogtes bereik gedurende die krieketseisoen en ons beplan om dit weer te doen. Hou die spasie dop, want daar is baie nuwe verwikkelinge op pad by Stoffberg se krieket.

AUGUSTUS & SEPTEMBER

A u g u s t u s & S e p t e m b e r In 2022 skop die Landloop uiteindelik weer af na 'n onderbreking van 2 jaar. 'n Gemiddeld van 24 leerders oor alle ouderdomsgroep het hierdie jaar aan Landloop deelgeneem en die seisoen was 'n reuse sukses. 'n Nuwe wetenskaplike oefenprogram word gevolg wat statiese strekwerk vervang met dinamiese strekwerk en baie konsentreer op hardloop binne spesifieke hartklop- en spoedsones, sodat optimale prestasievlakke bereik kan word. Daar sal 5 liga byeenkomste wees wat sal bepaal watter leerders verder kwalifiseer, Dit is in die beplanning vir Stoffberg om een van hierdie ligabyeenkomste op ons tuisvelde aan te bied wat 'n eerste is in die geskiedenis van Stoffberg. Ons hoop om deur ' noukeurige bou- en keuringsproses binne die volgende paar jaar 'n formidabele landloopspan op die been te bring wat hul man kan staan teen enige kompetisie.

In 1994 is die stapklub, genaamd "Stofftrappers", gestig. Sedertdien het die klub geweldig gegroei en pak ons elke jaar gedurende die September-vakansie ons rugsakke en pak een van die pragtige staproetes in ons mooi land aan. Die roetes wissel van 3 tot 6 dae en sluit onder andere staproetes van 4 verskillende roetes in die Kaap tot in die Laeveld in. Slegs 'n beprekte aantal leerders kan elke jaar stap. Gewoonlik gryp kinders vinnig die geleentheid aan om deel van die Stofftrappers te word. Kinders ervaar die natuur en buitelewe van naby en kom terug met baie kampvuurstories. Tydens so 'n avontuur leer ons onsself en mekaar beter ken. Ons swem in riviere, swaai aan boomtakke en spring in yskoue poele van rotse af. Om 'n Stofftrapper by Hoërskool Stoffberg te wees, is 'n fantastiese voorreg. Ons kan elke jaar nie wag vir die volgende belewenis van 'n staptoer nie!

DIE HELE JAAR

Hoërskool Stoffberg bied skyfskiet vir alle leerders wat nie net hul skietvernuf op die proef wil stel nie, maar oor die wêreld van skiet as ' sport wil ontdek. Skuts neem deel aan die SANSSU ("South African National School Shooters Union") 10 meter staan en 3P (staan, kniel en lê) luggeweer dissiplines. Daar vind elke jaar 6 proewe plaas waaraan die skuts kan deelneem. Die 4 beste proewe se uitslae word gebruik vir die jaarlikse telling. Tans, onder COVID-19 regulasies vind die proewe hier op die skoolterrein in ons eie skietbaan plaas. Hier leer die skuts nie net bankvas postuur, geoutomatieseerde sneller-trek en togewyde fokus nie, maar ook veiligheidsmaatreëls, selfdissipline en uithouvermoë. Kom word deel van ons interaktiewe span waar ons saam streef om te SKIET na die sterre, Hier is hope ervaring wat die rondte doen! "Jy mis 100% van die skote wat jy nie aandurf nie."

Stoffie Cheerleaders is die meisies met die meeste gees. Ons tree op by die Interhoër, sport byeenkomste & spesiale geleenthede. Dis soveel meer as met dans. Ons is 'n familie en ons bou aan tonne herinneringe saam.

Sportsklere

Kom besoek ons Finansiële kantoor om jou sportsklere te bestel.

Stoffberg Sportsgronde adres